fbpx

Deur Sebastiaan Biehl.

Van meet af wil ek dit duidelik stel dat ek geen aanhanger van die leuse “stem reg, bly weg” is nie. Diegene wat so ‘n uiters maklike weg volg (jy hoef net niks te doen nie en het die gevoel dat jy in verset  teen die bewind is) is soos die pasifistiese beweging, wat nog nooit enige onderdrukte volk werklik tot hulp gekom het nie, maar wat preek dat die Westerse lande hulle heeltemal van enige betrokkenheid by konflikte moet weerhou, met die gevolg dat die onderdrukkers en moordenaars vrye hand het om te doen wat hulle wil. Maar dit is ‘n ander onderwerp.

Ek is wel van mening dat die komende landswye munisipale verkiesing, en die groot bohaai en kunsmatige pro-reenboogutopia propaganda van feitlik alle partye, ons behoort koud te laat.

As jy die voorreg het om te mag stem, iets wat talle mense in die wêreld nie het nie, maak gebruik daarvan, al stem jy net vir die kleiner euwel. As jy ‘n burger van ‘n stad of dorp met die kenmerkende Suid-Afrikaanse demografiese samestelling is, stem dan nog steeds vir ‘n wyksraadlid wat jou kan help met jou brood en botter belange soos rioolverstopping, slaggate ens. As  jy besluit het om deel van die huidige Suid-Afrika te wees en om nie te werk vir ‘n alternatiewe bestel vir Afrikaners nie, is dit konsekwent om te stem binne die opset om ten minste hier en daar klein verbeterings teweeg te bring. Verset is dit egter nie en ‘n stelselverandering sal daardeur ook nie bereik word nie.

Ons moet net na die partye se slagspreuke en die verkiesingsveldtogte op die nuus kyk om te weet dat hierdie nie ons “cup of tee” is nie en dat ons geveg op ‘n heel ander terrein lê. Alle partye wedywer teenoor mekaar oor wie die beste dienslewering en die meeste toelaes vir armes kan gee. Die verkiesing laat ‘n mens dink aan ‘n groentemark, waar almal feitlik dieselfde produkte aanprys en die verkopers mekaar beswadder en hulleself hees skree. Kom jy by die huis, vind jy uit dat die groente wat jy gekoop het al vrot is, en glad nie so ‘n winskoop was, soos wat vir jou voorgehou is nie.

Alle partye en hulle leiers, met een of twee uitsonderings, is te sien in swart lokasies waar oorgewig vroue rondom hulle dans, t-hemde uitgedeel word en almal materialistiese dinge belowe word soos beter infrastruktuur, meer maatskaplike toelaes, ens.

Natuurlik is infrastruktuur en basiese dienste belangrik in ‘n land soos Suid-Afrika, waar groot dele van die bevolking ‘n agterstand het en onder haglike omstandighede leef. Met idees en toekomsideale  sal ‘n mens in die nuwe Suid-Afrika nie stemme werf nie. Dit bring egter ook mee dat die verkiesing my glad nie opgewonde maak nie en dat dit politiek verlaag tot ‘n gevryery na die gepeupel.

Die vraag is of ons as Afrikaners moet meedoen aan daardie onwaardige en opportunistiese sirkus. Dit is vir ons heeltemal om te ewe of die ANC, DA, Cope, UDM of wie ook al ‘n munisipaliteit beheer. Elkeen fokus op dieselfde groep en dieselfde dinge, en dit is nie ons nie en ook nie dit wat vir ons saak maak nie. Watter party ook al regeer, die probleem is nie ‘n swak party en ‘n onbevoegde bestuur wat dalk deur ‘n beter een vervang word nie, die probleem is die huidige struktuur van Suid-Afrika wat ons in ‘n Babiloniese gevangenskap hou. Nie een van die partye wil ons daaruit lei nie. Dalk is ‘n totaal onbevoegde ANC-regering nie so sleg nie, want ten minste erken ons so die grondliggende foute van die bestel, terwyl ‘n DA-bewind wat vir talle Afrikaners soos ‘n uitkoms lyk maar eintlik net ‘n pynpil is wat die simptome onderdruk en nie die kwaal aanspreek nie.

Omdat ons aan ‘n alternatiewe bestel vir onsself glo, hou ons in Orania ons eie verkiesing. Ons glo aan die selfbestuur van gemeenskappe, nie aan megapolisse waar die bestuur en rade net verder en verder van die grondvlak is en nie meer met die mense in aanraking kom nie. Ons glo ook dat ‘n kwaliteit lewe oor meer gaan as gratis water, krag en riolering. Wat help basiese dienste as die gemeenskap dit nie self kan onderhou nie, nie verstaan hoe dit werk nie en wat dit kos en verg om so iets te voorsien nie, en as ander mense dit moet onderhou en daarvoor moet betaal?

Behalwe vir die basiese dienste, moet munisipale bestuurders en verkose verteenwoordigers nie ook sorg dat die gemeenskap in elke opsig volhoubaar word nie? Die huidige “eis en verniel” kultuur moet vervang word deur ‘n kultuur van selfstandigheid, self-doen, self-onderhou. Dit is net moontlik as die politieke mag weer afgewentel word na die gemeenskappe waar mense bymekaar is wat bymekaar hoort en wat kan saamwerk.

Natuurlik kan nie almal in Orania bly nie. Die lesse wat ons hier geleer het kan ander gemeenskappe egter ook leer, mits hulle bereid is daartoe en ophou glo dat die staat alles vir hulle moet gee en dat al wat hulle hoef te doen is om ‘n kruisie te trek.
Afrikaners in hul middelklas-woonbuurte moet aanvaar dat die staat en sy verlengde arm, die munisipale bestuur, hulle net uitsuig. Privatiseer so veel as moontlik dienste en maak jou as individu so ver as moontlik onafhanklik van die staat.

Wek jou eie krag op met sonpanele of windlaaiers, gebruik droë toilette, reël gesamentlike oplaai en skei van rommel, doen patrollies, dan kan inwoners van ‘n buurt al iets bereik. Daar is voorbeelde van munisipaliteite waar inwoners besef het dat hulle hul tyd mors deur aan die raad se verantwoordelikheid te appelleer en waar hulle dus self verantwoordelikheid neem. Belasting moet dan gesien word as ‘n las wat ‘n vreemde heerser op sy onderdane plaas, nie as iets wat aangewend word vir onderhoud en verbterings van die inwoners se dorp nie.