fbpx

‘n Debat wat telkens in die besprekings tydens die burgerraad of ook by mense in hulle private omgewing na vore kom, is die vraag hoe die ontwikkelingspad van die volkstaat moet lyk. Die een gedagterigting praat van ‘n stadstaat en bepleit om die dorp Orania intensief te ontwikkel en te verdig en om alle hulpbronne op die uitbou van die bestaande grondgebied aan te wend.

Die lewensruimtelike ideaal is een van urbaniteit (stedelikheid): klein erwe, meenthuise en woonstelle dig op mekaar, met publieke ruimte soos parke en dorpspleine eerder as groot erwe en indiwidualisering en privaatheid. Alhoewel die Europese konsep van stede in die agtergrond van die ontwikkelingsvoorstelle staan, het Suid-Afrika self ook ‘n stedelike ruimte ontwikkel wat nie so veel anders was nie, voor die Afrikanisering die urbane lewensruimte in krotbuurte verander het en die voorstedelike lewe al is wat as alternatief oorgebly het.

Die ander gedagterigting is die van ‘n landelike volkstaat: koop eerder plase aan en versprei die bevolking oor ‘n groter gebied. Neem besit van lewensnoodsaaklike hulpbronne soos water en landbougrond. Die lewensruimtelike ideaal is die van die tradisionele pre-moderne Afrikaners wat egter nog steeds sterk ingewortel is en ‘n bekorende appel het, ook op postmoderne mense wat wil terugkeer na ‘n meer natuurlike lewe nader aan die grond: ruimte, persoonlike vryheid, die geleentheid om jou omgewing deur jou eie insette vir jouself te vorm, asook die pastorale idille van jou eie klein boerdery.

‘n Benadering van of die een of die ander een skiet na my mening  te kort. Mynsinsiens is ‘n kombinasie van die twee nodig om die volkstaat se volle potensiaal te ontgin. Beide benaderings het hulle beperkinge as hulle uitsluitlik gebruik word:

Orania kan nie as stadstaat alleen oorleef nie: ons het nie ‘n hawe nie en kan maklik doodgesmoor word; ons moet beheer oor ons hulpbronne hê. In Afrika maak water en landbougrond om jou te voed meer saak as netjiese kantore en vinnige internetverbindings. Verder kom mense Orania toe ook vir persoonlike vryheid en ‘n stedeling hunker na ruimte en ‘n  eie stuk grond.

Die landelike volkstaatideaal het egter net so sy beperkinge: talle dienste soos winkels, skole, hospitale, kerke ens kan nie deur ‘n wydverspreide outarke gemeenskap onderhou word nie. Ons mag die lekker lewe in die Boererepublieke of in die grensland idealiseer, maar vandag se Afrikaners is nie daarmee gediend nie. ‘n Sekere konsentrasie is nodig om dienste wat almal vandag wil hê, te kan regverdig.

Die een kan nie sonder die ander een nie: daar moet ‘n stad wees wat genoeg mense saamtrek om dienste, waarsonder min vandag wil klaarkom te regverdig, soos skole en selfs ‘n universiteit, kerke, winkels en diensbedrywe, ‘n hospitaal en ouetehuis en plekke van handel en verwerking van landbouprodukte soos ‘n mark en ‘n landboukoöperasie.
As daardie stad egter geen hinterland het wat hom voed nie, is dit ‘n baie kunsmatige en kwesbare situasie. Die landbouprodukte wat in die stad verhandel word moet in die onmiddellike omgewing van die stad geproduseer word. Die ruimte bied beskerming en dien as ‘n nodige buffersone. ‘n Stad wat omring is deur plakkerskampe is onvolhoubaar; een wat deur gesonde boereland omring word is self ook gesond. Stedelinge het die platteland nodig vir ontspanning en om tot rus te kom, plattelanders het die stad nodig vir dienste en produkte en om in kontak met die wêreld te wees.

As ons van ‘n stad praat dan praat ons van ‘n klein stad, nie ‘n metropool nie. Met die geringe bevolking van Afrikaners sal selfs die hoofstad van ‘n volkstaat nie meer as 100 000 inwoners hê nie, heel waarskynlik net 30 000 tot 50 000 inwoners  en dus vergelyk met Potchefstroom of Stellenbosch (sonder die lokasie en plakkerskampe). As ‘n stad te klein is (of eerder dan ‘n dorp) vloei te veel koopkrag weg na die stede en kan talle dienste nie gehandhaaf word nie want daar is te min wat daarvan gebruik maak. Word ‘n stad te groot, kry ons al die negatiewe effekte daarvan: anonimiteit wat misdaad aanhelp, besoedeling, vervreemding, instroming van armes en vreemdes wat geen of min bydrae lewer nie en druk op hulpbronne plaas.

Die ontwikkelingspad wat ons moet volg is dus tweeledig: moedig so veel as moontlik plaaslike produksie aan, kry beheer oor landbougrond om selfvoorsienend te wees en selfs kos uit te voer. Verwerk die produkte in die stad om waarde toe te voeg en hanteer self die verspreiding. Verbeter die dienste in die stad om meer mense te trek. Gee vir mense keuses hoe hulle wil leef, urbaan of landelik.

Ons kan nie die ontwikkelingstadiums (eers landbou, dan verwerking en produksie, dan dienste en ontspanning) verbyspring nie, maar danksy vandag se tegnologie kan ons baie vinniger vorder.  Daar moet ook in gedagte gehou word dat ons dinge moet produseer waarmee ons kompeterend kan wees. Sjina produseer feitlik alles en goedkoper as enigiemand anders dit  kan doen, maar kos sal toenemend skaarser raak soos wat die wêreldbevolking styg, eertydse boere na die  stede toe trek en landbougrond toegebou word. Grondroof in Suid-Afrika vererger die probleem spesifiek. Hier lê ‘n groot moontlikheid vir Orania opgesluit, naamlik om intensief te produseer, met die aanwending van tegnologie en die Afrikaner se vaardigheid in veral die landbou. Ons kan die voorbeeld van Nederland volg wat as klein en dig bevolkte land die hele Europa van groente voorsien wat in kweekhuise gekweek word. Soos wat geld instroom deur uitvoer, sal ander sekondêre en tersiêre bedrywe outomaties volg en ‘n gesonde, gediversifiseerde ekonomie kan ontstaan. Die tipiese Afrika-ekonomie, waar een hulpbron (erts, olie, ens)  onverwerk uitgevoer word en alle produkte, selfs kos, ingevoer word, is onvolhoubaar en kan nie vir ons ‘n voorbeeld wees nie. Gelukkig beskik Orania en die volkstaatgebied oor geen hulpbronne nie en dus is ons gedwing om te ontwikkel en ons kundigheid aan te wend. Dis juis die verskil tussen Switserland (geen hulpbronne maar kundigheid en vaardigheid) en Kongo (baie hulpbronne en beperkte kundigheid en vaardigheid).

Alhoewel Orania en die volkstaat se ontwikkeling nie volgens ‘n skema kan plaasvind wat 1 tot 1 oorgedra gaan word nie, is daar reeds genoeg ontwikkelingslesse geleer en kan ons bestaande kennis gebruik sonder om die wiel van vooraf uit te vind.